Afrikaans 100-feesviering

May 8, 2025 | Midstream-Skole

Die Afrikaans 100-skoleprojek bemagtig skoolgemeenskappe landwyd om Afrikaans as ʼn diverse taal met ʼn diverse herkoms wat deur mense van alle rasse, etniese- en kultuurgroepe gepraat word, te vier. Hierdie projek illustreer dat Afrikaans ʼn inklusiewe en vriendelike taal is en dat die bemagtiging van skoolgemeenskappe ʼn volhoubare impak binne die voortbestaan van ons taal kan maak. Die bemagtiging van skoolgemeenskappe wys dat Afrikaans ons almal gemeenskaplik Suid-Afrikaans maak, dat Afrikaans brûe kan bou en dat ons toekomsgeslagte sonder stigma die taal as inheemse Afrikataal kan aanneem.

[Bron: https://afrikaans100.org/skoleprojek/]

Afrikaans 100 moes gevier word! En dit is presies wat die Midstream-skole (Midstream College Hoërskool, Midstream College Laerskool en Midstream Ridge Laerskool) gedoen het deur saam te span en moedertaal- en addisioneletaalsprekers in al die grade die geleentheid te gee om sáám, “Ons Afrikaans, ons Afrikataal” te vier.

In die Midstream-skole maak dit nie saak hoe jóú Afrikaans klink nie. Wat ons wel almal in gemeen het, is dat Afrikaans ons harte warm laat klop. Daarom het ons skool die “diverse-Afrikaans-kombersprojek” aangepak.

232.5 meter materiaal (teal en maroen – die skool se kleure) is aangekoop en opgesny om 155 komberse te maak. Al die Afrikaanse klasse het die geleentheid gekry om volgens hul eie unieke temas – o.a. idiome, nuutskeppings, gunsteling- of lekker Afrikaanse woorde – op ’n kreatiewe wyse op die komberse te verf. Daar was heerlike spanwerk, kreatiwiteit en pret, en almal het lekker na Afrikaanse musiek geluister tydens die maak van die komberse.

Iets wat Midstream College baie na aan die hart lê, is die skool se uitreikprojekte en om aan die gemeenskap te kan teruggee. Daarom was die idee met die diverse-Afrikaans-kombersprojek nie nét om Afrikaans 100 op ‘n unieke wyse te vier nie, maar ook om ná die groot feesvieringe die komberse aan ons terreindienspersoneel te skenk.

Op Donderdag 8 Mei het al drie Midstream-skole (bykans 3 000 leerders) gedurende pouse op die Bondev-paviljoen bymekaar gekom waar die 155 komberse op die veld uitgepak is met “AFRIKAANS 100” in die middel van die veld. Die skool het ook die voorreg gehad om op dié geskiedkundige dag die bekende Kurt Darren as gasspreker en kunstenaar by die skool te hê.

Die Midstream-skole (Midstream College Hoërskool, Midstream College Laerskool en Midstream Ridge Laerskool) is parallelmedium, onafhanklike privaat skole wat Christelike waardes en hoë standaarde handhaaf, met topgehalte onderwysers en moderne fasiliteite.

Die skole bied ’n gebalanseerde leerervaring met ’n wye verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite, insluitend internasionale uitruilprogramme en avontuurklubs.